Saturday, May 27, 2017

Dag Twee: El Yolo One Guest Farm

Die volgende oggend lê ons ekstra lank in ons nuwe slaapplek op die Landrover se dak en koffie drink terwyl ons kyk hoe die stoom oor die Gariepdam se water stadig begin lig. Ons het altwee soos klippe geslaap, en stem saam ons eerste nag in die tent was 'n groot sukses. Teen die tyd dat ons gebrekfis en ablusies gedoen het is dit net na tien. En daar's 'n paar honderd kilometer grondpad wat op ons wag....

Dit help ook nie dat ons eers stop op Richmond en saam met vriende ietsie eet en drink by die Richmond Café nie.

Richmond se hoofstraat.


Dis al heelwat na middagete toe ons die grondpad in die rigting van die Swartberge vat. Teen die tyd dat ons deur die stil hoofstraat van Murraysburg ry en weer die vlaktes aandurf op pad Rietbron toe begin dit al skemer raak.



Langs die pad verdwyn eers die kragpale, toe die telefoondraad, en toe die grensdrade. 'n Tyd lank oorweeg ons dit om sommer die plat veld in te ry en iewers te kamp, maar ons het 'n reeds betaalde bespreking by die El Yolo One Gasteplaas naby Klaarstroom, nog 'n goeie 200km verder. Toe ons sel-opvangs op 'n kol kry bel ons hulle. Jammer, ons gaan laat wees, baie laat.

Ek het nog nooit van grondpad in die donker gehou nie, en nou is nie 'n uitsondering nie. Nie 'n kilometer gaan verby sonder dat daar 'n haas, Duiker of Koedoe verskrik voor die karligte begin uithardloop en ek moet aankruie tot die dier sy rigting die veld in kry. Ons ry in die donkerte deur Rietbron, en is gelukkig om net-net die die unieke Springbok windaanwyser op die kerktoring te kan uitmaak. Na Rietbron begin die toestand van die pad stadigaan verswak, en teen die tyd dat ons deur die Soetendalspoortpas gaan, bokspring die Landrover so rond deur die talle droë maar erg verspoelde driffies dat ek nòg stadiger moet ry om te keer dat ons omdop.

Dis al lank na tien-uur toe ons by El Yolo One se hek indraai. Dan is dit nog 'n paar kilometer van vierstrek grondpad voor ons by die pikdonker hoofgebou stop. Daar's nêrens 'n teken van 'n kampplek nie, en ons is weer op die foon na die eienaar. Hy verduidelik die pad - in ons oordeel nie baie goed gemerk nie, en uiteindelik spoor ons die populierbos op waar die kampplek is. Dis hier ook stikdonker, en die kampplek is nie veel meer as 'n oop stukkie grond met 'n braaiplek en 'n kraan nie.

Die ablusieblok is gesluit, en die ligte is almal iewers afgesit ope 'n plek wat ons nie kan vind nie. Ons is weer op die foon na die eienaar. Jammer, maar hy kry nie antwoord by die opsigter nie, sê hy apologeties. Brommerig sit ons die nodigste uit, lig die Bundutop en maak reg vir slaap. Net toe kom 'n bakkie deur die bome aangery. Dis 'n buurman wat 'n sleutel het vir die ablusieblok en weet waar om die ligte aan te skakel. Ons neem elkeen 'n yskoue stort maar is te moeg om kos te maak en val sommer dadelik in die bed.


El Yolo One
EL Yolo One kampeerplek.

Dag een: Aventura Gariep Dam

Ons is vroegdag uit Johannesburg. Die plan is om die N1 te ry tot by Gariepdam en dan daar oor te slaap. Ons het niks daar bespreek nie, maar die Aventura oord se kampplek lyk heel aantreklik, so dis die mikpunt.

Dis 'n weeksdag buite vakansie, so die pad is stil en ons vorder goed. Laatmiddag draai ons by die Aventura oord in en klop by die ontvangslokaal aan. Die vriendlike man agter die toonbank sê ja, daar's hope plek, ons kan die staanplek naaste aan die dam se waterkant kry.

Soos 'n hond wat lêplek soek draai ons die Landrover dan hierdie kant toe, dan soontoe hom seker te maak ons het die beste uitsig oor die dam uit die tent as ons moreoggend wakker word. Dis mos deel van die prys wat ons betaal: 'n uitsig vanuit al vier kante van die tent. Die staanplek is 'n lekker dik grasperk, met elektrisiteit en 'n gerieflike braaiplek. Die ablusieblok is 'n bietjie verouderd maar ruim en skoon. Meeste van die ander kampers is oumense in 'motorhomes' en groot karavane, en die hele tyd wat ons daar staan het ek die ablusieblok vir myself.

Die eerste opslaan van die tent verloop glad: Adeline druk die 'op' knoppie, en siedaar! ons het slaapplek vir die nag. Die sagte brom van die motortjie wat die opslaan doen draai 'n paar koppe van ander kampeerders, maar andersins trek ons nie veel aandag nie.



Die tent voldoen volkome aan ons verwagtinge. Dis snoesig, ruim en gerieflik met die ingeboude liggie en 12V kragpunt. Ons gaan slaap vroegerig, en voor jy kan sê 'daktent' is ons altwee in droomland.


Ons gradering: 7/10
Gaan ons terugkom? Ja


Kampeer / Camping Stories

Note to English-speaking visitors: I've done the camping in South Africa blog entries in Afrikaans, for the simple reason that most people who camp in South Africa are in fact Afrikaans-speaking. Perhaps it's the Voortrekker frontiersmen heritage that keeps them yearning to move from place to impermanent place. Perhaps it's their instinct for adventure and the wild outdoors. In a nation of less than four million Afrikaans-speakers, there's enough media space for about a dozen outdoor magazines - five of which are published in Afrikaans. But don't fear, Google Translate is your friend. I hope you enjoy reading about what a wonderful country South Africa is to explore while camping!


Ons kamp nou ernstig


Ek en Adeline was nog nooit eintlik kampers nie. Wel, ja, ons het so nou in dan 'n tent saamgekarring op 'n familievakansie, maar dit was teen wil en dank, want die gesamentlike besluit was altyd: Ons kamp. So ons moet maar saam kamp. Maar die feit dat mens altyd so vuil en gesweet is na tent op-en-afslaan dat jy van vooraf moet stort en skoonmaak het ons nooit aangestaan nie.

Ons was altyd nog huisie-mense. Die huisies van SANparks, KZN Wildlife en ander plekke is dié waar ons nog altyd oorgebly en vakansie gehou het. Maar deur die jare het die pryse opgekruip tot die punt waar ek myself afgevra het of 'n bed, badkamer en kombuis rêrig R1000 of meer 'n nag werd is.

Ons is gladnie sleepmense nie, so 'n boswa of a ding is buite die kwessie. Ek het al teveel gesien hoe spook en spartel kampers met waens om die ding staan te maak - kamp opslaan vat maklik 'n uur of twee vir hulle tyd. So dit was nie die oplossing nie.

Nie lank gelede het ons op 'n skou die antwoord raakgesien: 'n Daktent vir mense soos ons. Die Bundutop is nie net ruim, en gerieflik nie, maar hy't 'n eienskap wat hom 'n wenner maak: Hy slaan elektries op. Jy druk 'n knoppie, en tien sekondes later staan jou tent reg. Die Landrover is ook sommer aansienlik leër omdat ons al ons beddegoed in hom kon sit.


Natuurlik is die outjie nie goedkoop nie. En na die nuwe dakrak, ekstra battery, Howling Moon Swing Awn, batterystelsel en sonpaneel bygegetel is sal ek maar nie sê wat dit ons gekos het om kampgereed te wees nie. Om nie te praat van die fênsie hyskraan wat ek by die huis sal moet opsit om die gedoente op en af van die voertuigdak te kry nie. Dit gaan 'n paar jaar se kamp kos om die kostes te verhaal, maar nou's ons twee professionele kampers!

In Mei 2017 was ons vier weke gelede weg op die eerste uittoets van ons nuwe kamp slaapplek - 'n drie-weke-lange grondpad toer deur die Karoo. Ons het 'n paar kampplekke bespreek, maar ander dae sou ons sommer net kyk waar ons kom.

Hier's die verhaal van ons, die langpad en die Bundutop.