Sunday, June 11, 2017

Dag Elf: Mokala Nasionale Park

(Terug na die begin van die storie)

Die volgende oggend sit ons die rit voort in die rigting van Kimberley. Ons laaste oorbly op hierdie reis sal vanaand by die Mokala ('kameeldoringboom' in Sotho) Nasionale Park wees. Dis ons enigste oorbly in 'n nasionale park en ek sien uit daarna om wild te kyk. Ons is nie daar bespreek nie, maar dis 'n Dinsdag buite seisoen, so daar behoort plek te wees.

Gedurende ons reis het ek 'n punt daarvan gemaak om 'n draai deur elke dorpie te ry en rond te kyk. Sommige dorpies lyk nie te sleg nie en floreer selfs, byvoorbeeld Victoria Wes, Richmond, De Wildt en die plekke op die R62. Maar ander dorpe soos Strydenburg is nie ver van 'n spookdorp word nie, en Hopetown kan mens sien kry swaar. Om in die Karoo te bly kos hare op jou tande.



Na 'n rits oponthoude veroorsaak deur padwerke draai ons af vir die laaste twintig kilometer Mokala toe. Die pad is erg sinkplaat en die vordering is stadig. Net voor vyf kom ons by die hek aan waar 'n glimlaggende jong amptenaar ons welkom heet. Het Meneer en Mevrou 'n bespreking? Nee, sê ons, maar ons sien uit om hier te kamp. Hy spring op sy radio en vra vooruit of daar kampplek is. Nee, kom die kortaf antwoord. Ons is vir 'n oomblik uitgeboul, en verneem toe of daar huisies beskikbaar is. Nog net een, sê die stem oor die radio. Teësinnig laat ons weet ons vat hom, want dit meen nou ons laaste nag van slaap in ons snoesige tent is daarmee heen.



Die huisie is gemaklik en die standaard soos mens verwag by 'n SANParks kampplek - prakties en netjies maar effe sonder karakter. Dis digby 'n watergat, en ons eet aandete buite terwyl ons vir diere uitkyk.

Die volgende oggend vroeg ry ons 'n draai deur die wildtuin voor ons die laaste skof Johannesburg toe aanpak. Dis reënerig maar ons sien verbasend baie wild, tot 'n renoster wat haastig deur die bosse stap en 'n troppie zebras in alle rigtings laat spaander. Die veld is voortreflik mooi en welig, en die watergate is almal vol.

Kimberley kom en gaan, an daarna volg die dorpies mekaar ritmies op, wat die tyd gou laat verbygaan. Rondom Bothaville oes boere hard aan die geil mielielande wat van horison tot horison strek. Rye trokke staan by die graansuiers en wat om hul vragte af te laai. Dit gaan goed in die Wes-Vrystaat.

So om en by vier-uur ry ons by ons straat in. Adeline herinner my vir die hoeveelste keer dat die Landrover te hoog is vir die garage. Ons stop, en sommer dadelik tree ek 'n paar verbygangers aan om my te help om die dakrak met die tent op af te lig en in die garage te sit. Ses mense kry dit net-net reg. Hierdie gedoente is swaar!

In die garage druk ons vir die laaste keer die ons die Bundutop se "op" knoppie om hom oop te maak.  Ek voel skoon lus om nog een keer in hom te slaap, so lekker was die afgelope drie weke. Ek kamp al veertig jaar lank, maar hierdie was die lekkerste tentvakansie ooit.

Ons maak weer so.

Saturday, June 10, 2017

Dag Tien: Melton Wold Gasteplaas

Die volgende dag ry ons vroeg met die hoop dat ons 'n lekker plaasontbyt in 'n koffiewinkel op Suid Afrika se sterredorp, Sutherland sal kry. Maar die hoop staan beskaamd. Na twintig minute se op-en-af ry in Sutherland sien ons nie een oop eetplek nie. Die wat daar is, lyk maar redelik gehawend en nie eintlik verwelkomend nie. Dis seker maar buite seisoen of 'n bietjie vroeg, besluit ons, en ry verder in die rigting van Fraserburg.


Die pad tussen Sutherland en Loxton via Fraserburg is a lang grondpad van by die 150km, omring deur wye Karoo-vistas. Van eergister af kom ons agter dat ons op die voorpunt van een van die winter se eerste kouefronte ry - as ons agtertoe kyk, Kaap se kant toe, is die lug oopgetrek behalwe vir 'n paar vlieswolkies. Maar vorentoe is dit omtrent heeltemal bewolk en kort-kort ry ons in koue motrëen in. Dis lekker ryweer en die grondpad is doodstil, so ons stop baie langs die pad om die wêreld te bekyk.

Net voor Victoria-Wes is die Melton Wold Gasteplaas uitdraai. Die plaas is 'n klassieke oase in die Karoo, kompleet met palmbome, plate riete waar nattigheid is, en lang rye reusagtige populierlanings. Ons stop voor 'n statige gastehuisgebou met 'n oudtydse tuin hekkie en 'n leiklip paadjie wat tot by die voordeur lei.


In die voorportaal word ons vriendelik deur die eienares, Ronél ontvang. Sy vertel ons dat Melton Wold die oudste gasteplaas in Suid Afrika is. Hul gasvryheid hier strek terug tot in 1938, sê sy, en gee ons 'n interessante geskiedenispamflet van die plaas. Sy wys ons twee of drie van die ruim, netjiese gastekamers wat presies nog lyk soos vyftig jaar terug. Die dekor voer my terug na my vakansiedae saam met my ouers, toe hotelkamers nog radioboksies gehad het waarmee mens Sprinbok Radio en die Afrikaanse Diens kon luister.

Sy beduie waar die kampterrein is, 'n ent weg van die gastehuis.



Dis 'n yslike, oop stuk grasperk so groot soos twee rugbyvelde omring deur stok-ou wilge en dennebome. Behalwe vir een ander egpaar met 'n waentjie en 'n daktent is ons die enigste kampers. Ons kampplek is eenvoudig - 'n lekker groot vuurmaakplek, 'n kraan met heerlike water en 'n kragpunt. Die netjiese en moderne ablusieblok is buitengewoon ruim, waarskynlik kom groterige groepe gereeld hier uitspan.




Daar's ook 'n bielie van 'n plaasdam met helderskoon water om in af te koel in die warm somermaande, maar nou steek ons nie eens ons groottone in die koue water nie.


Ons het skaars begin vuurmaak toe steek 'n rukwind op - weereens een van die maaksels van die koue front wat ons agtervolg. Dit begin motreën, en ons maak ons kits-afdak weer staan. Hy't klaar meer sy kooprys op hierdie reis verdien, want dit vat eerlikwaar omtrent twintig sekondes om hom oop te maak. Gelukkig bedaar die wind en rëen en gee ons kans om klaar te eet en reg te maak vir die bed. Ons was skaars in die bed toe dit weeropsteek, hierdie keer met mening. Soos tydens Anysberg se storm beweeg die Bundutop en die afdakkie skaars. Terwyl ek indommel wens ek myself en Adeline weereens geluk met ons prysenswaardige kampeer beleggings.

Friday, June 9, 2017

Dag Nege: Verlatenkloof Gasteplaas

Dis amper tyd vir ons om stadigaan die pad terug Gauteng toe aan te pak. Na drie dae se oorstaan by Adeline se sussie in Pringlebaai begin ons die reis huistoe. Ons het drie dae om terug ry, dis dus nie nodig om te jaag nie. Ons probeer weereens hoofpaaie vermy en is verlig toe ons die N1 by Matjiesfontein verlaat en op die doodstil teerpad Sutherland toe afdraai.Net voor skemer ry ons by die Verlatenkloof Vakansieplaas in en maak die Landrover staan in hul klein kampterreintjie - daar's net drie staanplekke hier. Dis baie, baie droog, en die veld teen die rante uit is skakerings van rooi en geel soos selfs die karooplante begin moed opgee.


Die kampplek is stowwerig van die droogte en ons pak net die nodigste uit. Omrede die boorgate baie laag is, ruik die water sterk na swael wat mens afsit van stort, en ons is bly dat ons 'n spaar kan drinkwater saamry. Die ablusieblok het ook aandag nodig - dit lyk of Verlatenkloof eens groot planne vir akkomodasie gehad het, maar die plan nie volgehou het nie, want als lyk ietwat verwaarloos. Ons het nietemin 'n stil, salige aand, en na en ons kruip vroeërig in.

Thursday, June 8, 2017

Dag Agt: Fynbos Gasteplaas

Met geen besprekings vir die volgende twee aande nie besluit ons om onbeplan in Tulbagh se rigting te ry. Daar aangekom stap ons deur die vier museums in die historiese Kerkstraat ('n billike R15 ingangsfooi). Die eeste museum is die Aardbewing Museum, ter herinnering aan die 1969 aardskudding wat groot dele van Tulbagh, Ceres en die omgewing in puin gelê het.



Klaar met die museums besluit ons om 'n ou gunsteling te besoek vir middagete: die Paddagang restaurant. Ons het jare laas hier geëet, maar sonder om eers na die spyskaart te kyk bestel ons smoorsnoek, een van Paddagang se spesialiteite. Baie apologeties en effents skaam verduidelik die kelnerin dat die nuwe restaurant-eienaars nie meer tradisionele geregte op die spyskaart het nie. Hm. Dis jammer. Ons ry weer uit op een van die mooie valleipaaie opsoek na 'n lekker eetplek. 'n Paar kilometer uit Tulbagh ry uit ons by die Rijks Country House verby en besluit om hier by hul restaurant middagete te eet. Dis een van ons beste eet-besluite op die reis sover, want mense, die kos is fantasties! Adeline se viskoekies is vars en geurig, en vir my is die wenner die nagereg, wortelkoek roomys. Jammer Paddagang, maar hierdie is ons nuwe eetplek wanneer ons in Tulbagh se omgewing is.


Klaar geëet, vra ons op Facebook se Kamp-Mal groep vir aanbevelings waar om vanaand te kamp. Dis nie lank nie of die antwoord verskyn: Fynbos Gasteplaas. Ons is bly om te sien dis minder as 10km vanwaar ons tans is, so 'n halfuur later begin ons kamp opslaan op een van Fynbos se beskutte kampstaanplekke.



Ons is weereens die enigstes in die kampterrein, en behalwe vir 'n mak Suidooster wat waai is dit stil en rustig. Die eienaar, Peter, is duidelik 'n kuns en dekor entoesias - die ablusieblok is uniek en keurig versier, en is amper die standaard wat jy by 'n vierster selfsorghuisie sal verwag. 'n Groot deel van die plaas 'n afgestaan om te sorg vir diere wat gered is van mishandeling. Ons meander deur die plaaswerf en sien verskillende soorte voëls, perde, 'n paar varke, 'n klompie Llamas en Alpacas, en 'n troppie Springbokke.



Die plek is 'n plesier vir die oog en veral mense wat hou van tuinmaak sal lekker hier kuier, en weggaan met 'n paar idees.

Wednesday, June 7, 2017

Dag Sewe: Tweede Tol

Voor ons wegry bel ons Cape Nature en hulle bevestig dat daar kampplek is by Tweede Tol in Bainskloof. Ek was jare gelede as 'n student laas daar en wil graag sien hoe dit verander het. Destyds was dit nie veel meer as 'n stukkie grasperk en 'n paar braaiplekke nie, en ek onthou die rustigheid en skoonheid van die natuur.


Ons kruie rustig voort deur 'n handjievol gehuggies, eet middagete op Swellendam, en ry dan via Worcester tot in Wellington en Bainskloof. Tweede Tol het nou 'n yslike heining om met 'n groot staalhek voor, en die kampterrein is uitbrei stroomop in die vallei in. Dit is amper vol, maar ons kry steeds 'n lekker ruim staanplek tussen 'n groep studente aan die een kant en twee buitelandse toeriste wat in 'n omskepte verkoeltrokkie die land vol toer.


Ek pak die kampgoed uit terwyl Adeline die ablusieblok gaan bekyk. Intussen ry twee driejarige toekomstige renjaers raserig hulle plastiek motorfietse op en af voor ons kampplek verby. Ek oorweeg dit 'n oomblik lank om die fietse te saboteer maar bedink my. Adeline kom terug, en aan die suur uitdrukking op haar gesig kan ek sien dat sy nie beindruk is met die ablusie-fasiliteite nie. Ek gaan loer by die mans-kant in, en besluit dat ek liefs nie vanaand sal stort nie. Die toilette en wasbakke kom uit Noag se ark, oral lê plasse water en die plek ruik al te aardig. Dis duidelik nie in die afgelope paar dae skoongemaak nie.

Hopelik gaan dit môre beter, want dan's dit die einde van die naweek.

Die volgende oggend sit ons langs die Landrover in ons kampstoele en kyk hoe die res van die kampterrein oppak om te vertrek. Weereens klop ek myself op die skouer met ons tentbesluit: Nie een van die kampeerders kom weg voor twaalf-uur weg nie, ten spyte daarvan dat hulle reeds douvoordag begin oppak het.

Toe die laaste kampeerders wegry sak 'n salige stilte oor die kampterrein toe.  Maar dis nie lank nie of ons gewaar 'n nuwe onheiligheid: 'n Trop bobbejane begin metodies die asdromme omstamp en aas aan enigiets eetbaar. Op 'n stadium loop ek om die kar, en toe ek weer by die tafel kom, sit 'n uitgevrete bobejaanmannetjie pens en pootjies op die tafelblad besig om 'n koekblik met Adeline se tuisgemaakte gemmerkoekies oop te maak. Hoe meer ek skree en tekere gaan, hoe minder steur hy hom aan my. Sy dreigende houding sê ook duidelik dat hy nie met hom laat sukkel nie, en dis eers toe ek 'n koppie vol koffie in sy rigting slinger dat hy gesteurd padgee terwyl hy my verwoed aangluur.

Ons besluit daar en dan om ons vier-dag oorstaan kort te knip en ons reis voort te sit. Ons het ook skaars begin ry of Adeline is op Tripadvisor en gee Tweede Tol 'n een-ster resensie.

Tuesday, June 6, 2017

Dag Ses: Grootvadersbos Natuurreservaat

Na twee dae se oorstaan en uitrus by Anysberg durf ons weer die pad aan. Dis 'n lang grondpad met mooi panoramas tot op Montagu waar ons stop om iets te eet, en dan aanry met die gewilde R62 tot in Barrydale waar ons stop om ons wynvoorraad aan te vul.

Net na vier stop ons by Grootvadersbos waar ons bespreek is om twee nagte te vertoef. Ons druk die interkomknoppie by die hek herhaaldelik en bel die kantoornommer, maar niemand antwoord nie. Naderhand vra ons twee kinders wat agter die hek rondspeel om iemand te gaan roep. Na meer as 'n halfuur se gewag kom 'n bakkie aangery en ons word deur 'n taamlike bot kamp-amptenaar ingelaat.

Grootvadersbos het tien staanplekke, en nege is reeds vol toe ons daar aankom. Ons staanplek is so skuins dat ek nie ander keuse het nie as om die Landrover met sy neus in die lug staan te maak. Die kamplek is in 'n klein opening tussen digte struike en nie vreeslik gemaklik nie, maar ons berus ons.  Die ablusie is 'n hele ent weg van die kampplek en effens klein vir die hoeveelheid kampeerders daar.

Na die vrede van Anysberg is 'n kampterrein vol skreeuende kinders 'n aanpassing vir ons. So ons vat maar die pad en gaan stap 'n vyf-kilometer staproete deur die kloof-woud. Dis 'n steil op-en-af roete, maar pragtig lowergroen en ryk aan voëllewe.


Die volgende oggend stap 'n omie oor en bekyk die Bundutop. Hy vra uit, en teen die tyd dat hy loop weet ek hy gaan reguit terug na sy kampplek om sy vrou te begin bearbei sodat hy ook een te kry.

Monday, June 5, 2017

Dag Vyf: Anysberg Natuurreservaat

Omdat ons kampterrein 'n boomkoepel het, is ons tweede battery die volgende oggend voor ons ry dolleeg, en ek moet eers die Landrover 'n ruk laat loop om die battery te laai sodat ons die daktent kan laat sak. Ek wonder wat sal gebeur as ons heeltemal sonder batterykrag sit  en ons nie die tent kan op- or afgeslaan kry nie...


Voor ons die lang grondpad Anysberg - ons volgende kampeerplek - aandurf, maak ons 'n draai in Laingsburg om na die Vloedmuseum te kyk. Dis 'n klein maar goedbestuurde museumpie wat die storie vertel van die vloed wat 'n groot deel van Laingsburg weggespoel het toe die Buffelsrivier in 1981 skielik afgekom het. Talle mense het verdrink, en oorlewendes het tot sover as die Floriskraaldam, 20km weg uitgespoel en is daar gered.



Anysberg moet seker tel as een van die mees afgeleë kampplekke in Suid Afrika. Dis letterlik 'in die middel van nérens' - die naaste dorpe, Montagu en Laingsburg, is elk sowat sewentig stamperige  grondpadkilometers ver weg. Maar die ry is die moeite werd - die kampplekke is die gerieflikste van almal waar ons tot dusver gebly het.



Ons het probeer om twee nagte oor te bly by Anysberg, maar kon net plek kry vir die eerste nag. Dis egter so ongelooflik mooi hier dat ons pleit by die vriendelike kamphoof of daar nie dalk 'n kans is dat ons nog 'n nag kan bly nie. Gelukkig is daar iemand wat gekanseleer het, so ja, ons kan twee nagte bly.

Ek vra of Anysberg onlangs rëen gehad het. Ja, sê Marius, die kampbestuurder, en hy loer deur die venster. Hy't gehoor dit rëen op Robertson, wat beteken daar sal so oor twee ure 'n donderstorm hier val. Ek kyk skepties na die horison. Daar's 'n paar wolke so groot soos die spreekwoordelike man se hand, maar niks meer nie.

Daar is vyf kampeerplekke, maar ons is die enigste inwoners die eerste nag. Die kampplekke is van mekaar geskei met 2m-hoë houtheinings vir privaatheid, met 'n kraan naby en vuurmaakplek, tafel en 'n lekker groot sonsambreel. Die ablusieblok lyk splinternuut en daar's regtig niks om oor te kla nie.

Laatmiddag gaan stap ons 'n ent. Ons het net 'n paar honderd meter gevorder met die sanderige grondpaadjie langs toe begin die wind opsteek. Nie ver van ons af nie hang slierte rëen uit die wolke op pad na ons toe. Ons draai om en stap vinnig terug kamp toe. Driekwart-pad daar begin die eerste druppels neerplof. Toe ons by die kampplek aankom gryp ek 'n bottel witwyn, glase en 'n pak chips, en ons zip onsself toe in die tent net toe die hemele met mening oopmaak.



En so beleef ons albei vir die eerste maal in ons lewens 'n behoorlike Karoo donderstorm, kompleet met rukwinde, sluiers rëen en strome roesbruin water wat deur die kampplek stroom. Die Bundutop staan vas en beweeg skaars, en ons bly kurkdroog deur die hele storm. Toe die rëen bedaar klim ons kaalvoet uit en gaan plas soos kinders in die strome water wat deur die veld loop rond. Daar's min dinge wat so vars en heuglik ruik soos die Karoo na 'n ordentlike bui rëen! En die beste van als is dat ons blyplek sy eerste ware toets met lof geslaag het.