Showing posts with label tourism. Show all posts
Showing posts with label tourism. Show all posts

Saturday, June 10, 2017

Dag Tien: Melton Wold Gasteplaas

Die volgende dag ry ons vroeg met die hoop dat ons 'n lekker plaasontbyt in 'n koffiewinkel op Suid Afrika se sterredorp, Sutherland sal kry. Maar die hoop staan beskaamd. Na twintig minute se op-en-af ry in Sutherland sien ons nie een oop eetplek nie. Die wat daar is, lyk maar redelik gehawend en nie eintlik verwelkomend nie. Dis seker maar buite seisoen of 'n bietjie vroeg, besluit ons, en ry verder in die rigting van Fraserburg.


Die pad tussen Sutherland en Loxton via Fraserburg is a lang grondpad van by die 150km, omring deur wye Karoo-vistas. Van eergister af kom ons agter dat ons op die voorpunt van een van die winter se eerste kouefronte ry - as ons agtertoe kyk, Kaap se kant toe, is die lug oopgetrek behalwe vir 'n paar vlieswolkies. Maar vorentoe is dit omtrent heeltemal bewolk en kort-kort ry ons in koue motrëen in. Dis lekker ryweer en die grondpad is doodstil, so ons stop baie langs die pad om die wêreld te bekyk.

Net voor Victoria-Wes is die Melton Wold Gasteplaas uitdraai. Die plaas is 'n klassieke oase in die Karoo, kompleet met palmbome, plate riete waar nattigheid is, en lang rye reusagtige populierlanings. Ons stop voor 'n statige gastehuisgebou met 'n oudtydse tuin hekkie en 'n leiklip paadjie wat tot by die voordeur lei.


In die voorportaal word ons vriendelik deur die eienares, Ronél ontvang. Sy vertel ons dat Melton Wold die oudste gasteplaas in Suid Afrika is. Hul gasvryheid hier strek terug tot in 1938, sê sy, en gee ons 'n interessante geskiedenispamflet van die plaas. Sy wys ons twee of drie van die ruim, netjiese gastekamers wat presies nog lyk soos vyftig jaar terug. Die dekor voer my terug na my vakansiedae saam met my ouers, toe hotelkamers nog radioboksies gehad het waarmee mens Sprinbok Radio en die Afrikaanse Diens kon luister.

Sy beduie waar die kampterrein is, 'n ent weg van die gastehuis.



Dis 'n yslike, oop stuk grasperk so groot soos twee rugbyvelde omring deur stok-ou wilge en dennebome. Behalwe vir een ander egpaar met 'n waentjie en 'n daktent is ons die enigste kampers. Ons kampplek is eenvoudig - 'n lekker groot vuurmaakplek, 'n kraan met heerlike water en 'n kragpunt. Die netjiese en moderne ablusieblok is buitengewoon ruim, waarskynlik kom groterige groepe gereeld hier uitspan.




Daar's ook 'n bielie van 'n plaasdam met helderskoon water om in af te koel in die warm somermaande, maar nou steek ons nie eens ons groottone in die koue water nie.


Ons het skaars begin vuurmaak toe steek 'n rukwind op - weereens een van die maaksels van die koue front wat ons agtervolg. Dit begin motreën, en ons maak ons kits-afdak weer staan. Hy't klaar meer sy kooprys op hierdie reis verdien, want dit vat eerlikwaar omtrent twintig sekondes om hom oop te maak. Gelukkig bedaar die wind en rëen en gee ons kans om klaar te eet en reg te maak vir die bed. Ons was skaars in die bed toe dit weeropsteek, hierdie keer met mening. Soos tydens Anysberg se storm beweeg die Bundutop en die afdakkie skaars. Terwyl ek indommel wens ek myself en Adeline weereens geluk met ons prysenswaardige kampeer beleggings.

Friday, June 9, 2017

Dag Nege: Verlatenkloof Gasteplaas

Dis amper tyd vir ons om stadigaan die pad terug Gauteng toe aan te pak. Na drie dae se oorstaan by Adeline se sussie in Pringlebaai begin ons die reis huistoe. Ons het drie dae om terug ry, dis dus nie nodig om te jaag nie. Ons probeer weereens hoofpaaie vermy en is verlig toe ons die N1 by Matjiesfontein verlaat en op die doodstil teerpad Sutherland toe afdraai.Net voor skemer ry ons by die Verlatenkloof Vakansieplaas in en maak die Landrover staan in hul klein kampterreintjie - daar's net drie staanplekke hier. Dis baie, baie droog, en die veld teen die rante uit is skakerings van rooi en geel soos selfs die karooplante begin moed opgee.


Die kampplek is stowwerig van die droogte en ons pak net die nodigste uit. Omrede die boorgate baie laag is, ruik die water sterk na swael wat mens afsit van stort, en ons is bly dat ons 'n spaar kan drinkwater saamry. Die ablusieblok het ook aandag nodig - dit lyk of Verlatenkloof eens groot planne vir akkomodasie gehad het, maar die plan nie volgehou het nie, want als lyk ietwat verwaarloos. Ons het nietemin 'n stil, salige aand, en na en ons kruip vroeërig in.

Thursday, June 1, 2017

Dag Drie: Gamkaberg Natuurreservaat

Ons klim stram-stram die volgende dag uit die tent en beskou die wêreld. Die blare van die populierbos lê so dik op die grond dat mens nie al die kamplekke kan uitmaak nie, maar daar kan nie meer as vier of vyf wees nie. Daar's nie veel hier om voor te talm nie en dis nog nie eers nege-uur toe ons weer in die pad val op pad Meiringspoort toe. Gevolgtrekking - El Yolo One dien sy doel as 'n oornagplek, maar nie veel meer nie.

Ons trek 'n paar keer af in die indrukwekkende en dramatiese Meiringspoort om skoene uit te trek en met ons voete in die yskoue bergstroomwater te sit. Dis ook uitstaande kiekie-wêreld dié, en ek spandeer heelwat tyd om fotos te neem en bietjie te eksperimenteer met my visooglens.



Toe ons deur die poort is debateer ons of ons by die Groenfontein grondpad gaan afdraai, en of ons gaan aanry en aansluit by die R62 tot waar die pad uitdraai na die Gamkaberg Natuurreservaat waar ons vanaand gaan oorstaan. Ons bel die selnommer vir Gamkaberg om te hoor hoe laat hulle toemaak, maar dit klink na 'n verkeerde nommer. So ons hou maar met die teerpad langs, versigtig vir laatkom na gisteraand se misrekening.

Dis net na drie-uur die middag toe ons voor die Gamkaberg Natuurreservaat se hek stop. Daar's niemand om vir ons oop te maak nie, en ons bel weer, met dieselfde gevolgtrekking. Gelukkig kom 'n bakkie aan van die ander kant af - die kampopsigter het ons stellig reeds lank sien aankom vanuit sy huis teen die berghang. Dit blyk dat ons die verkeerde nommer gebel het. Ons fout.


Die kampplek by Gamkaberg is goed ingerig en amper pynlik netjies. Daar is net twee kampplekke, en ons is die enigste inwoners vir vanaand. Elke kampplek het 'n sementblad vir tentopslaan, 'n afdakkie met twee gemakstoele en 'n lekker groot hout tafel. Net oorkant ons kampplek is 'n gerieflike gemeenskaplike braai-area, en ons besluit dis waar ons vanaand gaan kosmaak. Die ablusieblok is 'n ent se stap met 'n beligte voetpaadjie weg maar is skoon en modern. Die uitsig oor die omringende  Karoo-berge uit die tent is voortreflik.

Dis 'n stil, wolklose aand. Nadat ons elkeen 'n smul lekker bord groentebredie uit ons bloedrooi driepootpotjie  genuttig het, skakel ek al ligte in die kampplek af om 'n foto te neem van die Melkweg. Voor ek gaan inkruip sit ek 'n rukkie die heelal en beskou. Hoe bevoorreg is ons om die hemelruim so perfek te kan sien hier in die Kleinkaroo!

Die volgende oggend word ons vroeg gegroet deur 'n alomteenwoorde Janfrederik, 'n paar s
Spekvretertjies en 'n ongewoon mak Bokmakierie. Dis nog 'n vreugde van kamp - om elke oggend die kampeerterrein se voëls te ontmoet.



Ons staan twee aande oor hier, en besluit om vandag die grondpaaie waarvoor ons nie gister tyd gehad het nie te gaan verken. Ons ry deur skilderagtige valleie met vrugteboorde wat pryk in herfskleure van vele skakerings. Ons eet middagete by Kobus se Gat, 'n eetplekkie aan die voet van die Swartbergpas. Die pas het kort gelede verspoel, verneem ons, en is gesluit. Dis 'n jammerte, van dié pas is vir my een van die mees skilderagtige roetes in Suid Afrika. Ons draai half-bek-af om en ry stadig terug kampplek toe.