Wednesday, June 7, 2017

Dag Sewe: Tweede Tol

Voor ons wegry bel ons Cape Nature en hulle bevestig dat daar kampplek is by Tweede Tol in Bainskloof. Ek was jare gelede as 'n student laas daar en wil graag sien hoe dit verander het. Destyds was dit nie veel meer as 'n stukkie grasperk en 'n paar braaiplekke nie, en ek onthou die rustigheid en skoonheid van die natuur.


Ons kruie rustig voort deur 'n handjievol gehuggies, eet middagete op Swellendam, en ry dan via Worcester tot in Wellington en Bainskloof. Tweede Tol het nou 'n yslike heining om met 'n groot staalhek voor, en die kampterrein is uitbrei stroomop in die vallei in. Dit is amper vol, maar ons kry steeds 'n lekker ruim staanplek tussen 'n groep studente aan die een kant en twee buitelandse toeriste wat in 'n omskepte verkoeltrokkie die land vol toer.


Ek pak die kampgoed uit terwyl Adeline die ablusieblok gaan bekyk. Intussen ry twee driejarige toekomstige renjaers raserig hulle plastiek motorfietse op en af voor ons kampplek verby. Ek oorweeg dit 'n oomblik lank om die fietse te saboteer maar bedink my. Adeline kom terug, en aan die suur uitdrukking op haar gesig kan ek sien dat sy nie beindruk is met die ablusie-fasiliteite nie. Ek gaan loer by die mans-kant in, en besluit dat ek liefs nie vanaand sal stort nie. Die toilette en wasbakke kom uit Noag se ark, oral lê plasse water en die plek ruik al te aardig. Dis duidelik nie in die afgelope paar dae skoongemaak nie.

Hopelik gaan dit môre beter, want dan's dit die einde van die naweek.

Die volgende oggend sit ons langs die Landrover in ons kampstoele en kyk hoe die res van die kampterrein oppak om te vertrek. Weereens klop ek myself op die skouer met ons tentbesluit: Nie een van die kampeerders kom weg voor twaalf-uur weg nie, ten spyte daarvan dat hulle reeds douvoordag begin oppak het.

Toe die laaste kampeerders wegry sak 'n salige stilte oor die kampterrein toe.  Maar dis nie lank nie of ons gewaar 'n nuwe onheiligheid: 'n Trop bobbejane begin metodies die asdromme omstamp en aas aan enigiets eetbaar. Op 'n stadium loop ek om die kar, en toe ek weer by die tafel kom, sit 'n uitgevrete bobejaanmannetjie pens en pootjies op die tafelblad besig om 'n koekblik met Adeline se tuisgemaakte gemmerkoekies oop te maak. Hoe meer ek skree en tekere gaan, hoe minder steur hy hom aan my. Sy dreigende houding sê ook duidelik dat hy nie met hom laat sukkel nie, en dis eers toe ek 'n koppie vol koffie in sy rigting slinger dat hy gesteurd padgee terwyl hy my verwoed aangluur.

Ons besluit daar en dan om ons vier-dag oorstaan kort te knip en ons reis voort te sit. Ons het ook skaars begin ry of Adeline is op Tripadvisor en gee Tweede Tol 'n een-ster resensie.

No comments:

Post a Comment