Omdat ons kampterrein 'n boomkoepel het, is ons tweede battery die volgende oggend voor ons ry dolleeg, en ek moet eers die Landrover 'n ruk laat loop om die battery te laai sodat ons die daktent kan laat sak. Ek wonder wat sal gebeur as ons heeltemal sonder batterykrag sit en ons nie die tent kan op- or afgeslaan kry nie...
Voor ons die lang grondpad Anysberg - ons volgende kampeerplek - aandurf, maak ons 'n draai in Laingsburg om na die Vloedmuseum te kyk. Dis 'n klein maar goedbestuurde museumpie wat die storie vertel van die vloed wat 'n groot deel van Laingsburg weggespoel het toe die Buffelsrivier in 1981 skielik afgekom het. Talle mense het verdrink, en oorlewendes het tot sover as die Floriskraaldam, 20km weg uitgespoel en is daar gered.
Anysberg moet seker tel as een van die mees afgeleë kampplekke in Suid Afrika. Dis letterlik 'in die middel van nérens' - die naaste dorpe, Montagu en Laingsburg, is elk sowat sewentig stamperige grondpadkilometers ver weg. Maar die ry is die moeite werd - die kampplekke is die gerieflikste van almal waar ons tot dusver gebly het.
Ons het probeer om twee nagte oor te bly by Anysberg, maar kon net plek kry vir die eerste nag. Dis egter so ongelooflik mooi hier dat ons pleit by die vriendelike kamphoof of daar nie dalk 'n kans is dat ons nog 'n nag kan bly nie. Gelukkig is daar iemand wat gekanseleer het, so ja, ons kan twee nagte bly.
Ek vra of Anysberg onlangs rëen gehad het. Ja, sê Marius, die kampbestuurder, en hy loer deur die venster. Hy't gehoor dit rëen op Robertson, wat beteken daar sal so oor twee ure 'n donderstorm hier val. Ek kyk skepties na die horison. Daar's 'n paar wolke so groot soos die spreekwoordelike man se hand, maar niks meer nie.
Daar is vyf kampeerplekke, maar ons is die enigste inwoners die eerste nag. Die kampplekke is van mekaar geskei met 2m-hoë houtheinings vir privaatheid, met 'n kraan naby en vuurmaakplek, tafel en 'n lekker groot sonsambreel. Die ablusieblok lyk splinternuut en daar's regtig niks om oor te kla nie.
Laatmiddag gaan stap ons 'n ent. Ons het net 'n paar honderd meter gevorder met die sanderige grondpaadjie langs toe begin die wind opsteek. Nie ver van ons af nie hang slierte rëen uit die wolke op pad na ons toe. Ons draai om en stap vinnig terug kamp toe. Driekwart-pad daar begin die eerste druppels neerplof. Toe ons by die kampplek aankom gryp ek 'n bottel witwyn, glase en 'n pak chips, en ons zip onsself toe in die tent net toe die hemele met mening oopmaak.
En so beleef ons albei vir die eerste maal in ons lewens 'n behoorlike Karoo donderstorm, kompleet met rukwinde, sluiers rëen en strome roesbruin water wat deur die kampplek stroom. Die Bundutop staan vas en beweeg skaars, en ons bly kurkdroog deur die hele storm. Toe die rëen bedaar klim ons kaalvoet uit en gaan plas soos kinders in die strome water wat deur die veld loop rond. Daar's min dinge wat so vars en heuglik ruik soos die Karoo na 'n ordentlike bui rëen! En die beste van als is dat ons blyplek sy eerste ware toets met lof geslaag het.
No comments:
Post a Comment