Na twee dae se oorstaan en uitrus by Anysberg durf ons weer die pad aan. Dis 'n lang grondpad met mooi panoramas tot op Montagu waar ons stop om iets te eet, en dan aanry met die gewilde R62 tot in Barrydale waar ons stop om ons wynvoorraad aan te vul.
Net na vier stop ons by Grootvadersbos waar ons bespreek is om twee nagte te vertoef. Ons druk die interkomknoppie by die hek herhaaldelik en bel die kantoornommer, maar niemand antwoord nie. Naderhand vra ons twee kinders wat agter die hek rondspeel om iemand te gaan roep. Na meer as 'n halfuur se gewag kom 'n bakkie aangery en ons word deur 'n taamlike bot kamp-amptenaar ingelaat.
Grootvadersbos het tien staanplekke, en nege is reeds vol toe ons daar aankom. Ons staanplek is so skuins dat ek nie ander keuse het nie as om die Landrover met sy neus in die lug staan te maak. Die kamplek is in 'n klein opening tussen digte struike en nie vreeslik gemaklik nie, maar ons berus ons. Die ablusie is 'n hele ent weg van die kampplek en effens klein vir die hoeveelheid kampeerders daar.
Na die vrede van Anysberg is 'n kampterrein vol skreeuende kinders 'n aanpassing vir ons. So ons vat maar die pad en gaan stap 'n vyf-kilometer staproete deur die kloof-woud. Dis 'n steil op-en-af roete, maar pragtig lowergroen en ryk aan voëllewe.
Die volgende oggend stap 'n omie oor en bekyk die Bundutop. Hy vra uit, en teen die tyd dat hy loop weet ek hy gaan reguit terug na sy kampplek om sy vrou te begin bearbei sodat hy ook een te kry.
No comments:
Post a Comment